|

Hi julle!
Wil julle darem net in kennis stel, dat
ons vandag ‘n hele 5jr oud is! Tyd het gevlieg en as ek
terugkyk, sien ek werklik die hand van die Here in die
projek. Van dag een af was daar nog nooit ‘n tekort nie en
het die Here nog altyd voorsien.
Ek onthou reg in die begin, die huis
was nog nie reg nie, skielik het ek 11 kinders ekstra ryker
geword en moes ons vinnig ‘n roetine kry, reëls vasmaak en
dissipline toepas. Dis ‘n nuwe huis en min mense het van
ons geweet, finansies was maar soos ‘n boetie in die tronk,
ons het liewers nie daaroor gepraat nie! Een geyser vir die
hele huishouding – 18 mense! Die helfde het maar in koue
water gebad totdat ons nog ‘n geyser bygekry het, die stoof
het nie gewerk nie. Vervoer was ‘n groot krisis en het ek
met die Mazda’tjie twee keer in die oggende en twee keer in
die middae kinders aangery en gaan haal, en so was daar vele
uitdagings! Die een Sondagmiddag het ek bietjie hande in
die hare gestaan want die suiker en waspoeier was op en
terwyl ek nog so gestaan en wonder het en net ‘n
skietgebedjie opgesê het, het daar iemand aangekom met ‘n
groot pak suiker en waspoeier! Toe ek die een oggend
Michelle se laaste doek aangesit het, het daar omtrent ‘n
uur later ‘n vroutjie opgedaag met ‘n pak doeke en sommer
gereël met ‘n sponser om maandeliks doeke te voorsien! Tye
wat ek nuusbriewe uitgestuur het en gevra het vir hulp met
kruideniersware, en julle net jul harte oopgemaak en gehelp
het. Wow, dis sulke hoendervleis oomblikke wat jy weet dat
God is in beheer!
Vandag 5jr later lyk die huis al
aansienlik beter, ons het sponsers in plek, mense wat help
met maandelikse bydraes om die begroting te help klop, ons
kinders kan een keer per jaar met vakansie gaan, mense wat
sommer net kom en ons bederf! As ek na die kinders kyk, kan
ek nie glo dat hulle al so groot geword het nie, Bernadette
was hierdie klein verdwaalde ou dogtertjie, Fano die stil
kind wat maar net gesit en TV kyk het, Helen wat so min
selfvertroue gehad het, en niks vir haarself wou doen nie,
Lucia wat erg enkoprese gehad het en ‘n baie bang en
onsekere dogtertjie was en so kan die lysie aangaan.
Stukkende kinders wat oor die tydperk gesond geword het,
maar ook soveel selfvertroue opgebou het en vandag net
gewone kinders kan wees. Hiervoor kan ons net die Here
dankie sê! Kinders wat ontwikkel het in leiers by die skool
soos Fano en Jayson. By die huis een van my regterhande,
beslis Melissa! Kyk, die is ‘n regte skool juffrou in
wording! Bernadette wat altyd vol grappies is en net altyd
‘n bietjie liefde soek, ‘n drukkie kom gee en dan weer
aangaan. Monique wat so goed aangepas het en so uit die
bloute en baie droog, ‘n stuiwer in die armbeurs kan gooi!
Pieter, wat ons geleer het, moet hom eerder nie probeer
skoonhou nie, hy hou van buite speel en vuil word, op die
regte seuns manier! Angelo en Shawn wat ook maar nog nuut
is en so goed aangepas het. Angelo doen baie goed met
atletiek en het nou begin met landloop en Shawn het begin
skaak speel aangesien die rugby seisoen nou verby is.
Ook kon ons die geloofspad met hulle
stap en was dit ons voorreg om die kinders na die Here te
kon lei, om saam te kon bid oor die behoeftes van die huis
en dingetjies wat ons graag sou wou hê of doen. Sjoe, en
hier het die Here weereens bewys dat ons ‘n God van
wonderwerke dien en dat Hy nie net in ons daaglikse
behoeftes wil voorsien nie, maar ook wil bederf met die
lekker in die lewe! En saam te kon dankie sê wanneer die
Here geantwoord het. Maar kon ons ook saam met hulle bid oor
die seer in hul lewens en het ons die een aand al die seer
neergeskryf en dit vir die Here gegee, en toe ook vir die
ouers gebid. Lekker trane sessies, maar met wonderlike
gevolge! Dis net so wonderlik hoe die Heilige Gees ons lei,
en is dit wonderlik om in Sy diens te kan staan en net ‘n
kanaal te kan wees waardeur Hy kan werk!
Hierdie is awesome kinders, kinders wat
geleenthede aangryp en voluit gaan om sukses te kan behaal.
My hart is natuurlik baie seer oor Fano wat nou matriek is
en ons aan die einde van die jaar gaan verlaat. Hy is
genooi vir proewe vir die rugby akademie by TUT met onder
andere Jake White wat daar betrokke gaan wees. Verder wil
ons kyk of hy dan terselfdertyd by TUT kan gaan studeer, hy
stel belang in Sportbestuur. Wag nou net vir sy rapport en
dan sal ek moet begin soek vir beurse vir hom.
Dan was daar ook al tye wat ons moes
afskeid neem van ons kinders, Michellie wat aangeneem is,
ongelooflike goeie ouers gekry met wie ons sulke groot
vriende geword het en nog die voorreg het om vir Michelle
van tyd tot tyd te kan sien. Jean en Steven wat aangeskuif
het na ‘n ander huis om nader aan die grootouers te kan wees,
Okule wat teruggeplaas is in haar ma se sorg, Mart-Marie en
Lindie wat maar kort by ons was en hier gematrikuleer het.
Lang trane en ‘n vreeslike gemis na elke afskeid, want dit
is nooit lekker nie!
Aan almal betrokke en wat help om ‘n
verskil in ons kinders se lewens te maak, baie baie dankie!
Sonder julle en die Here sou ons dit nooit kon doen nie!
Blessings!
Hein & Theresa Geldenhuys

083 696 8600
012 644 2524
theresag@ki-deo.co.za
www.ki-deo.co.za |
|