![]() |
|
|
04/13/11 |
|
|
Hallo almal! Ek moet groot om verskoning vra dat ek so lank laas van my laat hoor het, maar ek was tydelik van die lug af. Die maatskappy wat ons mail server gehost het, moes ongelukkig sy deure toemaak. Gelukkig het Paul Cammidge my te hulp gekom en is ek nou weer aan die gang. Dankie Paul, my hande is maar afgekap as ek nie kan mail nie! Aan almal wat die afgelope tyd bydraes gemaak het, baie dankie en jammer dat daar nog nie ‘n dankie sê briefie was nie, maar dit volg spoedig. By die huis en met al die kinders gaan dit tans goed. Fano is besig met skole bloubul proewe en het ongelukkig Saterdag sy skouer erg beseer tydens ‘n wedstryd waar hy vir Centurion teen Overkruin gespeel het. Ons het plate laat neem en gelukkig is niks gebreek nie, maar hy het spiere en legimente seergemaak . Hy gaan Maandag vir fisio en die volgende uitdunne is Dinsdag. Huidiglik het hy maar nog baie seer, so ons bid en vertrou vir ‘n wonderwerk of dat hulle hom goedgesind sal wees en sal deursit na die volgende rondte sonder om Dinsdag te speel. Ek het met sy afrigter gepraat en moet ‘n dokters sertifikaat inhandig en dan hang dit af hoeveel punte hy reeds het, of hulle hom dan sal deursit na die volgende rondte. Huidiglik is hy al deur na die 4de rondte. Ruan en Jayson het aangesluit by ‘n Stap en Klimklub vir graad 9 en 10 leerlinge en klim bykans elke Vrydagaand by Kaya Sands en was ook in die vakansie Magaliesberge toe, waar hulle ver gestap en lekker geklim het. Hulle klim so bietjie uit hul comfort zone en moet nuwe uitdagings aandurf en vrese oorwin. Hulle klim baie hoog met toue onder leiding van Paul Cammidge wat ‘n ervare klimmer is. Moet sê die twee geniet dit vreeslik baie en die foto’s vertel sy eie storie, ek is net baie bly dat dit nie ek is nie, want ek het ‘n vrees vir hoogtes en dink nie dat ek dit sou gemaak het nie. Paul beplan om hulle gedurende die Junie/Julie skoolvakansie vanaf 12 – 15 Junie na die Drakensberge te neem waar hulle weer lekker gaan klim. Junie/Julie in die Drakensberge is maar erg koud en benodig die seuns slaapsakke vir die klimaat en ook goeie stapskoene en die regte klere vir die klimaat (-10⁰). As enigeen dalk weet van ‘n plek waar ek dit teen billike pryse kan koop, moet julle my asseblief laat weet. Ons is baie opgewonde oor die eerskomende vakansie waar die hele huis Margate toe gaan. Schalk en Bettie het hul twee huise wat langs mekaar staan vir ons gratis beskikbaar gestel. Ons is ‘n groot groep wat gaan (16) wat maak dat ons albei huise moet gebruik en ons is vreeslik opgewonde want Robbie Wessels gaan ook saam! Hy is ‘n goeie vriend van die huis en die kinders is mal oor hom, as hulle hom vir ‘n tydjie nie gesien het nie, begin hulle te vra wanneer hy dan weer kom kuier. Die kinders tel behoorlik die slapies af en die kleintjies sê elke aand vir Liewe Jesus dankie dat hulle die vakansie Margate toe kan gaan. Wanneer ons die kinders met so ‘n vakansie wegneem, is dit vir meeste van die kinders die enigste ware vakansie wat hulle in ‘n jaar kry. Gewoonlik gaan die vakansie ouers nie weg tydens vakansies nie en bly hulle maar tuis. Daarom doen ons spesiale moeite met so ‘n vakansie en wil ons hulle sommer lekker vrot bederf en alles doen wat lekker is. Dit is dan wanneer ons die hulp benodig van almal wat moontlik kan kan om dit moontlik te kan maak. Ons vertrek Saterdag, 27 Junie en kom weer terug op Saterdag 4 Julie, dus vertrek ons oor 6 weke! Wat ons benodig vir die vakansie is die volgende en indien jy met enigiets hieronder kan help, sal dit ongelooflik waardeer word. Finansieël (brandstof, tolgelde, kitsetes langs die pad en sakgeld vir die kinders, ens) Kan direk inbetaal word by ABSA rekening no 10500 40654, verw: MK KH – Margate (copy my asb om rekord te kan hou) Vleis en wors vir braai en potjie Viennas en koue vleise vir middagetes Kitspappe (Coco Pops, Rice Crispies, Pro Nutro, Cornflakes) Suiker Koffie, Tee, Hot Chocolate/Milo Langlewe Melk Beskuit, koekies, lekkers, chips Koeldrank Vrugte Kleinerige tasse vir kinders se klere Die eksamen is om die draai en ons kinders benodig dringend hulp met die volgende vakke: Wiskunde (gr 8, 9) Wiskunde Geletterdheid (gr 10, 11) EBW (Rekeningkunde en Bedryfs gekombineer) – Gr 8, 9 Tegniese Tekene – Gr 11 Alhoewel almal nog besig is met sport en verskeie aktiwiteite, begin hulle in alle erns hersien van die week af. Ons begin dus die goeie stryd te stry, bid asb in besonder vir die huisma!!! Dis hoekom die vakansie so nodig is!!! Ons het tans ‘n vakature beskikbaar vir iemand wat in die middae kinders kan rondry (teen vergoeding), indien jy weet van iemand, kontak my asb. Met die res van ons kinders gaan dit baie goed, Pieter vaar baie goed in sy rugby en Helen gaan binnekort begin met sagtebal waaroor sy baie opgewonde is. Hulle koor tree eersdaags op en verder neem sy deel in ‘n danskonsert. Bernadette neem op 5 en 6 Junie deel aan ‘n danskonsert, as enigeen hulle dalk wil ondersteun, moet julle my net laat weet. Jean het ‘n baie goeie rapport gekry en raak tog te slim, Steven en Lucia geniet hulle kleuterskool vreeslik baie en het Donderdag, elk gewapen met R10, saam met die Gr R groep, die winkels besoek wat hulle vreeslik ryk laat voel het en ‘n groot lekkerte was om self ietsie te kon koop. Ek moet sê dat Siembamba Kleuterskool ‘n ongelooflike kleuterskool is met goeie christelike waardes wat verskriklik baie vir ons kinders beteken. Hulle verstaan wanneer Steven of Lucia die dag nie lekker is nie en speel regtig ‘n groot rol in ons kinders se lewens. Dankie vir julle! Neem asseblief kennis dat ons ‘n Bemarkingsvergadering gaan hê op Donderdag, 21 Mei om 19h00. Met die vakansie en langnaweke het ons bietjie uitgestel met die opvolg vergadering, Laat weet asb of die datum sal pas en wie dit kan maak. Ek het ietwat van ‘n uitdaging op die oomblik. Brandon is in ‘n spesiale skool – Nuwe Wending (Via Nova) wat naby Jakaranda Kinderhuis is en gewoonlik het die bussie hom by die huis kom optel en dan in die middae weer kom aflaai. Hulle het nou vanaf 1 Mei die vervoerreëlings verander en moet ons hom nou in die oggende op ‘n sentrale punt gaan aflaai en dan weer in die middae gaan optel. Dit maak dit regtig baie moeilik vir my want partykeer is die bussie laat en moet ek dan vir ‘n geruime tyd wag. Dit terwyl ek ook die ander kinders moet rondry. As enigiemand dalk weet van ‘n skool vir leergestremde kinders of alternatiewe raad vir my het, sal ek dit regtig waardeer. Net ‘n kort getuienis. My dogter het die jaar begin studeer en het sy eie vervoer dringend nodig gehad. Finansieël kon ons dit net nie bekostig om vir haar ‘n karretjie te koop nie en was haar groot hartewens ‘n Nissan bakkie. Ons het toe vir ‘n geruime tyd daarvoor gebid en in verlede week het iemand vir haar ‘n Nissan bakkie gegee! Hy kort bietjie aandag en ‘n ernstige diens, maar is die Here nie goed nie? Sy het sommer in trane uitgebars en nadat sy oral die bakkie bekyk het en haar sit gesit het, dadelik die bakkie gewas. Sy is so opgewonde oor haar bakkie en kan nie wag dat hy padvaardig moet wees sodat sy kan begin rondry nie. Mag julle ‘n wonderlike week hê, vol van Sy guns en seen! Dankie vir julle betrokkenheid by Ki-Deo en vir dit wat julle vir ons kinders doen. My gebed vir die week: Help my om van myself te vergeet en eerder U lig te laat skyn. Gee vir my U wyheid en wys my alles wat ek moet sien om my op die pad te hou wat U vir my beplan het. Groete Theresa Geldenhuys 083 696 8600 012 644 2524 |
This site was last updated 03/30/10