|
26 Augustus 2011
Hi julle!
Soos wat
die jaar sy einde nader, raak ek al hou benouder want daar
is nog soveel om te doen en so min tyd oor! En dan
loop ek weer deesdae met ‘n permanente knop in die keel want
aan die einde van die jaar is dit weer tyd om vir Melissa te
groet. Sy is ons matrikulant vir die jaar en het
aansoek gedoen om Lugmag toe te gaan. Gelukkig gaan sy
darem nie ver nie en weet ek dat ons haar nog heel dikwels
gaan sien aangesien Monique, haar sussie nog by ons in die
huis gaan wees. Maar dat sy ‘n groot leemte gaan laat,
is beslis! Maar nou is dit eers die opgewondenheid van
die matriekafskeid wat voorlê! En sy het die mooiste
mooiste rok!!
As
ek net kyk hoe vinnig die jaar verbygevlieg het en hoe gou
haar matriekjaar verbygaan, raak ek net al hoe benouder want
volgende jaar is Jayson en Ruan albei in matriek! Al
my groot kinders op ‘n streep uit die nes uit! Ai, ai,
my hart gaan dit nie hou nie!!
Helen
is so opgewonde om volgende jaar te kan hoërskool toe gaan
dat sy al Monique se hoërskoolklere aangepas het en daarmee
vir ons kom paradeer het! Die eens bang en onseker
dogtertjie wat volgende maand ses jaar gelede ingekom het,
het ontpop in ‘n verantwoordelike kind met geweldige
deursettingsvermoë wat ‘n groot sukses van haar
laerskoolloopbaan gemaak het en haar jaar as leier geweldig
geniet het. En kyk, die bekkie kry jy net nie stil
nie! ‘n Baie spesiale kind wat baie diep in ons harte
gekruip het!
Bernadette
het toe haar inkleurboektaak voltooi en dit het tog te
spoggerig gelyk en is ons opgewonde saam met haar dat haar
sketse nou gebruik gaan word in die kankerafdeling van Steve
Biko Hospitaal. In graad 10 moet die kinders uitreik
na een of ander charity en het sy ook haar projek die
kinders by die kankerafdeling by die Steve Biko Hospitaal
gemaak, so trots op haar want sy is een in ‘n duisend met ‘n
hart van goud met soveel empatie vir ander en wat net altyd
wil help waar sy kan om ander se las minder te maak!
Monique
is die stillerige enetjie, wat so droog met iets sal uitkom
wat jou sal laat skaterlag! Akademies doen sy goed en
het so stil stil baie diep in ons harte gekruip, dink dit
gaan vir haar baie moeilik wees volgende jaar sonder Melissa
in die huis. Maar ook ‘n regte staatmakertjie wat
altyd daar is vir almal. Dit is eintlik so wonderlike
hoe die kinders saamstaan en regtig funksioneer soos een
groot familie. Die ander aand het Shawn per ongeluk
vir Lucia in die oog met sy elmboog gestamp en ek was in die
studeerkamer besig met die groter meisiekinders, en toe
hulle haar hoor huil, wou hulle dadelik weet wat fout is en
almal het getroos! Met die vreeslike aandag en gekloek
met die versekering dat dit net ‘n ongelukkie was, het die
traantjies toe sommer baie vinnig laat opdroog!
Met
Angelo en Shawn gaan dit ook baie goed, ek het die anderdag
so vir Angelo gestaan en kyk en besef hoe groot hy geword
het, hy het so ‘n tydjie terug 13 geword en het die eerste
puisietjies ook nou begin kop uitsteek en begin die gesiggie
ook groot te word, nie meer die seuntjie wat
Januarie 2010 ingekom het nie. En die meisies dood oor
hom en moet ek gereeld die telefoon vir hom gee wanneer een
van die meisies bel! Shawn is nou weer die mannetjie
wat daarvan hou om met sy hande te werk en waar Hein ookal
besig is in en om die huis, help hy! ‘n Regte
helpertjie wat net altyd vir almal wil help, maar wat ook
vreeslik lekker in sy eie fantasie wêreld kan speel.
Dit is vir my so lekker om die klompie dop te hou wanneer
hulle speel, want hulle skep hul eie fantasie wêreld en kan
hulself dan vir ure lank besig hou. Die ander dag was
dit huis-huis by die boma met Lucia en Madelein wat poppe en
wat nog uitgedra het, die volgende dag is dit oorlog en dan
word daar weggekruip en skuilings gebou! So lekker om
kind te wees!
Brandon
se skool het ‘n tydjie gelede ‘n opvoering in die
Staatsteater gehad saam met ander skole van Pretoria en het
ek net weereens besef watter groot werk die Here ook in sy
lewetjie gedoen het! Op 2 jaar was sy vlakke op die
van ‘n 9 maande oue baba, kon hy nie loop, growwe kosse eet
of praat nie. Die mooiste dingetjie, maar wat deur
soveel trauma is dat dit sy ontwikkeling beïnvloed en sy
breintjie seergekry het. Toe ons hom ‘n paar jaar
later na ‘n baie bekende pediater geneem het vir assessering
het hy ons vertel dat Brandon onopleibaar is en dat ons hom
eerder in ‘n tehuis vir sulke kinders moet sit aangesien hy
nooit sal vorder nie. My hart was bitter seer en so
deur die trane het ek geweet dat ons ‘n God van wonders dien
wat vir Brandon sal help om sy volle potensiaal te kan
bereik. Vandag staan mense verstom oor sy vordering en
dit wat hy kan doen, sy spraak en hoe hy kan gekskeer en
sommer net lekker kan gesels. Hy is uiters
rekenaarvaardig en is vreeslik lief om te google op die
internet. Hy sal sy diereboeke nader trek en dan die
naam intik van die dier op google en die foto’s van die
verskillende diere gaan kyk. Ons staan partykeer
verstom oor dit wat hy alles op die rekenaar kan doen en ook
die moeilikheidsgraad wat hy bemeester het met die
verskillende speletjies wat hy speel! Hy kan sommetjies
maak en sy naam en van skryf en het ‘n geheue wat skrik vir
niks! Hy is tans in Maranatha Bana wat ‘n wonderlike
skool is vir spesiale kinders soos hy en is hy so gelukkig
daar. Hy is net altyd gelukkig en so bly en dankbaar
oor alles, voorwaar ‘n engelkind in wie se lewe ons God al
‘n reuse werk gedoen het! Dis vir hom baie belangrik
dat mense lief moet wees vir hom, maar ook lief moet wees
vir Jesus!
Met
ons twee dogtertjies, Lucia en Madelein gaan dit sommer baie
goed, hulle het sulke goeie maatjies geword en speel
vreeslik lekker saam. Hulle kamer is van die netjieste
in die huis en kan jy die kamer elke oggend deur ‘n ring
trek, beddens netjies opgemaak, alles opgetel en op die
regte plekke! Hulle is nog dogtertjies wat hou van
popspeel, inkleur en teken en deel tog te graag drukkies en
soentjies uit en vertel hoe lief hulle jou het! En die
rapporte, sommer ‘n groot spog! Madelein is akademies
baie sterk, sommer ‘n slimmetjie, Lucia het bietjie gesukkel
in die eerste kwartaal, maar het dit verlede kwartaal sommer
baie goed gegaan en was daar soveel vordering en is dit ook
te danke aan die Kumon klasse wat hulle neem. So
dankbaar vir die verskil wat die Kumon klasse vir ons
kinders doen, hulle geniet dit vreeslik en het soveel meer
selfvertroue wanneer dit kom by Wiskunde. Angelo rits
behoorlik deesdae deur sy wiskunde en is dit nou sy
gunsteling vak!
Dan
het ons ook die goeie nuus gekry dat Jayson top drie gehaal
het by Hoërskool Sutherland en is verseker of hoofseun of
een van die twee onder hoofseuns vir volgende jaar, die
aankondiging word in Oktober gedoen. Wow, dis so
wonderlike om te sien hoe ons kinders uitstyg en ook in
leiersposisies presteer!
Soos
alle ou huise het ons ook weer ‘n paar uitdagings met die
onderhoud van die huis. Ons huis kort dringend ‘n verf
van binne en buite, as iemand dalk weet waar ons kwotasies
kan kry van betroubare mense wat nie te duur is nie.
Dan spook en spartel ons nogsteeds met die kragsituasie,
indien iemand dalk weet van ‘n betroubare elektrisiën wat
ons raad kan gee ivm ons probleem. ‘n Verdere projek
is die plaveisel wat oorgedoen moet word en ook plaveisel
wat onder die afdak gelê moet word. Ons benodig ook ‘n
skottelgoedwasser met die dat die meeste groot kinders nou
op ‘n streep uit die huis uitgaan, kan dit net help om die
skottelgoedlas minder te maak! Ook benodig ons 2
Strykysters want met ons berge was- en strykgoed hou dit
eenvoudig nie!
In
verband met ons kruideniersware kom ons emmers nogsteeds nie
in nie en ervaar ons ook hier ‘n groot uitdaging. As
enigeen hier betrokke wil raak, kan julle help met enige van
die volgende:
Suiker
Kitspappe
Rys
Afdrooglappe
Skuursponsies
Tissues
Waslappies vir kombuis
Chutney
Mayonaise
Sweet
Chilliesous
Speserye:
Hoender, Barbeque, Gemende kruie
Tamatiepuree
2-Minute
Noodles
Swart
sakke
Waspoeier
(Mac of Sunlight 2-in-1)
Stasoft
Handy
Andy
Domestos
Jeyes
Fluid
Mr Muscle
(4-in-1)
Sunlight
Liquid
Jik
Koekies
Lekkers
Bully
Beef
Mag
julle ‘n wonderlike en geseënde naweek hê, so dankbaar vir
die lekker warm weer wat begin kop uitsteek en die nuwe lewe
in die natuur, so lekker om te sien hoe bome weer begin
uitloop en bloeisels begin blom! Maak mens net weer
bewus van God se grootheid, vir nuwe lewe wat Hy gee waar
alles net kaal en dood was! Mag Hy ook jou hart
aanraak met nuwe lewe en ‘n lus en ywer om die mens te wees
wat God beplan het jy moet wees! Jy is kosbaar en
spesiaal en ons waardeer jou so baie!
Blessings!
Theresa Geldenhuys

083 696 8600
012 644 2524
theresag@ki-deo.co.za
www.ki-deo.co.za |