Die Huisouers  

Ons Getuienis

Ons passie het ongeveer 17jr gelede begin toe ek aanvanklik betrokke wou raak by veiligheidsorg vir kinders.  Ons eie kinders was nog baie klein en my man het gevoel dat ons net eenvoudig te lief sou raak vir die kinders en dat dit te swaar sou wees om weer afskeid te neem van hulle.  Intussen soos wat my eie kinders groter geword het, het ons baie te doen gekry met kinders wat self deur moeilike omstandighede in hul eie ouerhuise gegaan het en was ons baie keer ‘n halfweg stasie vir die kinders.  Dit glo ek was God se voorbereiding vir ons taak.

Alhoewel ons nooit regtig intensief betrokke was by veiligheid- of pleegsorg nie, was dit iets wat altyd baie swaar op my hart gedruk het en wat net nooit wou weggaan nie.  Ons was toe nog woonagtig in Bellville in die Kaap en in 1999 het my man ‘n werksaanbod gekry van ‘n maatskappy in Johannesburg  Ons het baie ernstig oor die saak gebid en ook vir die Here gevra dat as hulle hom ‘n aanbod maak, dit ‘n sekere bedrag moes wees aangesien ons moes hervestig en ek dan weer werk sou moes soek.  Toe hy die aanbod kry, was die bedrag nog meer as waarvoor ons gevra het en het ek geweet dat die Here ‘n plan het waarom hy ons uit die mooie Kaap waar al ons familie woon, wegstuur.  Ek het onmiddellik vrede in my hart gekry en het geweet dat Hy saam met ons in die skuif is en dat Hy groot dinge in stoor het vir ons.

In 2000 toe my jongste seuntjie na Gr1 toe is, het ek ‘n advertensie gesien in die Rekord waar hulle pleegouers soek en het ons besluit dat aangesien ek op toe by die huis was, ons betrokke wou raak as pleegouers.  In Maart 2001 het ons vir Brandon gekry.  ‘n Seuntjie met geweldige agterstande as gevolg van die omstandighede waarin hy was, maar pragtig en so dierbaar en het ons verskriklik lief geword vir hom.  Ek het ‘n paar maande later begin werk en die hele tyd was ek net bewus van dit wat die Here op my hart druk om te doen.  Ek wou verskriklik graag ‘n huis oopmaak vir seerkry kinders en het ons ook vandat ons in Gauteng bly, met meer sulke kinders te doen gekry. As mens kyk jy mos maar vas in omstandighede en toe ek begin sommetjies maak, het ek besef dat ons dit nooit uit ons eie sou kon doen om so ‘n huis te begin nie.  Ek het begin dink aan bemarkingsplanne en wat my alles te doen staan, maar het nie altyd antwoorde gehad nie.

Einde 2004 het ons begin besoek by Doxa Deo Suidkampus en in Januarie 2005 het die Here baie duidelik tydens die oggenddiens vir my gesê dat dit die Jaar was wat ons die huis sou begin.  Ek was so opgewonde en het vir almal vertel dat dit die jaar is wat ons die huis gaan begin, weet nie hoe en waar nie, maar dit is wat die Here sê.  In Februarie het ons aangesluit as vennote by Doxa Deo Suidkampus en tydens ons gesprek met ons pastoor waar ek hom vertel het van my passie vir seerkry kinders, het hy aan my genoem dat hulle (die kerk) in die proses was ‘n kindershuis in samewerking van die AGS Welsynsraad te begin.  Ons was natuurlik verskriklik opgewonde en het ingeval by al die prosesse wat toe al aan die gang was om die  kinderhuis te begin.  Toe die vakature vir huisouers oopgegaan het, het ek en my man aansoek gedoen en is ons toe ook gekeur.  Op 1 Julie 2005 het ons die huis betrek met ons gesin.  Ons het slegs 2 weke tyd gehad om die huis in gereedheid te kry vir die 11 kinders wat op by ons geplaas moes word.  Gelukkig het Doxa Deo Suid Kampus ons geweldig hierin ondersteun en het van ons vennote hulp aangebied om te kom verf en die huis in gereedheid te bring.  Ons moes meubels, beddegoed, ens. kry om die huis te begin en dit is ook waar ons gemeente ons geweldig ondersteun het.

Op 15 Julie 2005 het ons eerste kinders gearriveer.  Aanpassings was maar moeilik, skielik het jy nie net 4 kinders gehad om na om te sien nie, maar 15 in totaal en dit is ‘n 24/7 werksweek.  Ons het verskeie uitdagings gehad, maar die Here was so getrou en het net altyd voorsien daar waar die behoefte was.

Ons staan nou al  3 ½ jaar in sy diens en dit is wonderlik.  Ons weet dat sonder Hom is ons niks en wat ons het is net genade.  Dit is wonderlik om ‘n pad met die kinders te stap en huil ek nog gereeld oor al die seer in hul lewens.  Ek dink Hy het ons al soveel sterker gemaak en hanteer ons die situasies soveel beter. Ek het ook al die voorreg gehad om die kinders na die Here te lei en stap ons ook die pad met hulle. Dit is net wonderlik hoe die Here ons lei om die regte ding te doen en die regte ding op die regte tyd te sê en te kan verstaan waardeur hulle gaan.  Dit is ‘n wonderlike bediening om in te staan en ook ‘n bediening waar ons amper daagliks wonderwerke sien gebeur.  Sy guns en genade is groot oor ons huis!

Ek voel dat as die Here iets op jou hart lê om te doen, sal Hy jou voorberei en hy sal baie duidelik vir jou sê wanneer dit tyd is en dan sal hy ook al die deure daarvoor oopmaak.  Moenie iets druk nie, God se tyd is sy eie!

God roep nie soseer die bekwames nie, maar hy bekwaam die wat Hy roep. Ek het ‘n paar dinge ontdek, en dit is nie wat ek doen wat saak maak nie, maar dit is wat God kies om deur my te doen.  God verwag nie aardse sukses nie, Hy soek my, Hy soek my hart in onderworpenheid aan Hom.  Dit het nie gegaan oor loopbaan-sukses nie, dit is ‘n voorreg, ‘n verantwoordelikheid, ‘n rentmeesterskap wat geleef moet word volgens ‘n baie hoër roeping:  God se roeping.  Dit alleen gee aan die lewe ware betekenis.