Hi julle!

'n Groot dankie aan elkeen van julle wat ons kerspartytjie so 'n groot sukses help maak het.  Hierdie is my hart kinders en baie spesiaal en omdat ek weet dat daar van hulle is wat nie kersdag 'n geskenkie of iets spesiaals gaan kry of doen nie, bederf ons hulle graag en julle het dit help moontlik maak!

Aan elkeen wat hier was, baie dankie vir jul teenwoordigheid, hoop dat julle dit net soveel soos die kinders geniet het?  Almal wat bygedra het met die wors, koeldranke, wimpy etes, souse, lekkers, koek en koekies, servette, papierborde, souse, rolletjies, charcoal, ens, 'n baie groot dankie, waardeer dit regtig so baie!  Aan ons liewe kersvader, dankie vir jou tyd wat jy opgeoffer het, die grappies en die omgee!  Mandie se pa vir die kersverhaal om ons almal net weereens te herinner waarom ons eintlik kersfees vier.  'n Groot dankie vir ons kersboom en versierings waaronder ons al die geskenke kon sit en Heila en haar span vir die geskenke vir ons kinders.  Dit is net ongelooflik hoe almal hul harte oopgemaak het en bereid was om uit te reik en die dag baie spesiaal vir ons kinders te maak, beslis 'n dag wat hulle nie sommer sal vergeet nie!  En wat 'n ongelooflike kerskoek het ons nie gehad nie met die mooiste cupcakes om ons in die regte luim vir kersfees te gesit het.  Dankie vir elke lekkergoedpakkie, my kinders is nogsteeds op 'n "high"!

Ek het agterna 'n sms van Lucia se ma gekry waar sy ook baie dankie vir die dag gesê het en sê dat Lucia se sussie nie kon ophou praat oor die partytjie, kersvader en haar sussie nie!  Ek het die een dogtertjie so dopgehou toe sy haar geskenkie oopgemaak het en dit was so dierbaar om die gesiggie te gesien het.  Toe sy die pop uiteindelik uit die boks uit gekry het, het sy eers die bottel ingesit en toe begin om haar nuwe baba te sus.

Die uitstaan oomblik vir my was toe 'n ander kind se naam uitgeroep was en die een sussie van die tweeling besluit het om op kersvader se skoot te klim.  Lucia wat nie vir 'n oomblik haar sussie se handjie los nie, en Madelein wat soos 'n moedertjie na haar kleiner boetie en sussie kyk!

Kosbaar!

Dankie dat julle die dag met ons gedeel het en vir julle omgee en liefde!

Blessings!
Theresa